Tydsbeperkings: Die gevare om tyd te probeer wen

’n Integrale deel van die administratiewe proses om belasting in te vorder, behels dat belastingpligtiges onderworpe kan wees aan oudits of verifikasies van inligting deur die belastingowerheid om die akkuraatheid en korrekte toepassing van wetgewing by die vasstel van die belastingaanspreeklikheid te bevestig. Belasting-pligtiges vereis egter in ’n stadium sekerheid en finaliteit rakende hulle belastingsake. Hierdie finaliteit word verskaf deur artikel 99 van die Wet op Belasting-administrasie (WAB). Hierdie nuusbrief oorweeg die bepalings van hierdie artikel wat finaliteit verskaf en ook wysigings hieraan vir 2016.

 

Huidige tydsbeperkingsbepaling

Die tydsbeperkings in artikel 99 van die WAB verskil tussen belasting aangeslaan deur die SAID en self-aanslae deur belastingpligtiges. ’n Voorbeeld van ’n self-aanslag is BTW, waar die belastingpligtige die bedrag belasting op die BTW201 vorm bepaal and dan oorbetaal, sonder om vir die SAID te wag om ’n aanslag daarvoor uit te reik. Inkomstebelasting aan die ander kant is ’n belasting wat die SAID aanslaan. ’n Belastingpligtige dien ’n opgawe by die SAID in. Na die indiening van die opgawe, word ’n aanslag vir die belasting betaalbaar deur die SAID uitgereik. Alhoewel die proses grotendeels geoutomatiseer is, word die aanslag nietemin tans steeds deur die SAID voorberei en uitgereik. Wysigings is egter in die proses om inkomstebelasting in die toekoms ’n self-aanslagbelasting te maak. Die klassifikasie van ’n aanslag soos hierbo uiteengesit word, is van kardinale belang wanneer dit by tydsbeperkings kom. Tydsbeperkings in the konteks van belastingaanslae verwys na die tydperk waarná die bedrag van ’n aanslag nie meer verhoog kan word nie. In die geval van ’n SAID aanslag, mag die SAID nie ’n addisionele aanslag uitreik ná langer as 3 jaar vanaf die datum van die oorspronklike aanslag nie. In die geval van ’n self-aanslag verleng hierdie tydperk tot 5 jaar. Dit gee die SAID meer tyd om te oudit en verifikasies uit te voer op die insette aangesien hierdie aanslag nie deur hulle nie, meer eerder deur die belastingpligtige self voorberei is. Daar is ’n aantal uitsonderings op hierdie tyds-beperkingsbepalings. Dit sluit in:

  • Waar die belastingpligtige en die SAID ooreengekom het om die tydperk te verleng; en
  • Waar ’n verlenging nodig is om uitwerking te gee aan die uitkoms van ’n geskilbeslegtings-proses (byvoorbeeld, waar beswaar teen die aanslag aangeteken is).

Bykomend hiertoe, geld die tydsbeperkingsbepalings nie in gevalle waar die belasting nie aangeslaan is nie as gevolg van bedrog, wanvoorstelling en nie-openbaarmaking van wesenlike feite. Hierdie uitsonderings het tot gevolg dat belastingpligtiges wat skuldig is aan hierdie optredes nie die beskerming van die tydsbeperkings kan geniet nie.

 

Veranderinge in 2016

Heelwat oudits word redelik laat uitgevoer in die tyd wat die SAID toelaat. Dan kan die SAID dikwels op ’n redelike beperkte sperdatum werk om al die inligting nodig om te bepaal of ’n addisionele aanslag uitgereik moet word of nie in te samel. Die taktiek om die verskaffing van inligting te vertraag en sodoende die oudit of verifikasie verby die tydsbeperking te neem (tensy daar natuurlik bedrog, wanvoorstelling of nie-openbaarmaking opgespoor word) word deur sommige belastingpligtiges en/of hulle belastingpraktisyns aangewend.

 

’n Wysiging is aan artikel 99 van die WAB gemaak om hierdie situasie reg te stel en sal in werking tree wanneer die Belastingadministrasie wysigingswet gepromulgeer word. Die wysiging laat die Kommissaris toe om die tydsbeperking te verleng wanneer ’n vertraging veroorsaak word deur die feit dat ’n belastingpligtige nie die inligting binne die voorgeskrewe tydperk aan die SAID verskaf nie of daar ’n inligtingsgeregtigheids-dispuut ontstaan. Dit is egter nie ’n outomatiese verlening nie – die Kommissaris moet die belastingpligtige in kennis stel van die verlening ten minste 30 dae voor die tydsbeperking aanbreek. Die verleningstydperk hang af van die vertraging veroorsaak deur die verskaffing van dokumente of die dispuut rakende die inligting.

 

Ter afsluiting

 

Belastingpligtiges wat vertragingstaktiek aanwend by die verskaffing van inligting sal waarskynlik in die toekoms vind dat hierdie strategie oneffektief is. Dit sal egter interessant wees om die toepassing van die wysiging op belastingpligtiges waar te neem wat nie doelbewus hierdie strategie volg nie. ’n Siniese beskouing van die wysiging kan moontlik wees dat dit die SAID ’n instrument kan gee waardeur die tydsbeperkings uitgestel kan word deur ’n reeks inligtingsversoeke. Uit die  memorandum van die doelwitte wat die konsepwet vergesel, blyk dit egter nie die doel van die wysiging te wees nie. Belastingpligtiges wat twyfel oor die toepassing van die gewysigde bepaling in hulle spesifieke gevalle word aangemoedig of hulle praktisyns te kontak vir bystand in hierdie verband.

 

Saamgestel deur Pieter van der Zwan (PvdZ Consulting (Edms) Bpk

Die Vereniging van Rekenmeesters vir Afrikaans